Ons gesprek vandeesmaand By die Koffietafel is met 'n baie besonderse persoon, Sandra Goosen, Werksplasingsbestuurder van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede – Vrystaat (APD).
Die eerste ding wat omtrent haar gesê moet word, is dat sy 'n hoogs intelligente, ontwikkelde en normale persoon is wat bloot a.g.v. haar fisiese gestremdheid in 'n rolstoel is.
Tweedens is sy uitstekend geposisioneer om met ons te deel omtrent die wêreld van die gestremde in die Vrystaat, veral in die maand van Julie as Maand vir Gestremdes.
So, kom ons laat haar vir haarself praat:
Waar is jy gebore, het jy skoolgegaan en jou werksloopbaan begin? Ek is in Bloemfontein gebore en het skoolloopbaan by Oranje Meisieskool begin en is later na JBM Hertzog Hoërskool. Ek moes die skool na standerd 9 verlaat aangesien ek te veel pyn in my gewrigte gehad het en nie meer trappe kon klim nie. Het matriek deur Sukses Korrespondensie Kollege voltooi.
Ek het my werksloopbaan by die destydse Bloemfontein Beskermde Werkswinkel begin, maar toe dit in 1989 ontbind, het ek vir ses maande by Vrystaat Nasorgsentrum as administratiewe beampte gewerk. In Januarie 1990 het ek by die Vereniging vir Persone met Gestremdhede begin werk in verskillende poste en is tans die Werksplasingsbestuurder.
Wat het jou gestremdheid veroorsaak? Ek is gediagnoseer met Rheumatoide Artritis toe ek 14 jaar oud was en op 18 jaar was ek reeds sodanig gestremd dat ek van 'n rolstoel moes gebruik maak.
Kortliks, hoe kom jy reg in jou daaglikse roetine - bad, aantrek, kosmaak, vervoer, ens.? Ek bly onafhanklik in 'n woonstel en het 'n voltydse helper wat my help met my persoonlike versorging, kosmaak ens. Aangesien ek nie self kan bestuur nie, maak ek gebruik van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede se toeganklike vervoerdiens.
In 'n neutedop, wat behels jou werk? Ek ondersteun persone met gestremdhede om geskikte poste in die ope arbeidsmark te bekom. Verder stel ek ook geselekteerde persone met gestremdhede beskikbaar aan werkgewers. Ek plaas ook mense in leerlingskappe en ander opleidingsgeleenthede.
Deel van my werk is om Werksvoorbereiding Werkswinkels met die persone op my databasis te hou. Verder doen ek ook Sensitiwiteits-opleiding by werkgewers oor die hantering van die gestremde persoon in die werkplek.
Ek is ook mede aanbieder van die program: “Leefwêreld van die Gestremde” Dinsdag-oggende om 10:00 op Radio Rosestad.
Sê iets kort oor die gestremde en die werkplek? Ten spyte van die Wet op Gelyke Indiensneming word daar nog steeds nie genoeg gestremde persone indiens geplaas nie. Daar is verskillende redes daarvoor, soos bv.: Werkgewers wat nie glo dat gestremde persone produktief kan wees nie / Baie gestremde persone kom uit die voorheen benadeelde gemeenskap en het nie kwalifikasies of werksondervinding nie / Baie geboue is nie toeganklik vir persone wat van rolstoele gebruik maak nie / Publieke vervoer is nie toeganklik nie.
Jou gesinsverband? Ek is ongetroud en het nie kinders nie.
Jou belangstellings en/of stokperdjies? Ek is 'n rolstoeldanser en neem deel aan Latyns Amerikaanse- en Baldanse. Het al aan vier Nasionale Danskampioenskappe vir Persone met Gestremdhede deelgeneem. In 2008 was ek en my nie-gestremde dansmaat, Stephan Steyn, die nasionale kampioene in die kampioenskapafdeling vir Klas 1 dansers d.w.s. persone wat die gebruik van alvier ledemate geheel of gedeeltelik verloor het.
Verder speel ek ook Boccia, 'n sport vir swaarder gestremde persone en werk baie soos rolbal. Ek was gekies om hierdie jaar saam met die Vrystaatspan aan die Nedbank Nasionale Kampioenskape vir Gestremde Persone in Port Elizabeth in Maart te gaan deelneem. Dit was 'n wonderlike ervaring.
Wat maak jou baie bly? Dit is vir my belangrik dat mense my sien as mens en nie as gestremde persoon nie. Ek is 'n Christen en ons selgroep kom Woensdagaande by my woonstel bymekaar. Die lede van ons groep behandel my net soos enige ander persoon en dit is vir my 'n groot vreugde.
Gunstelingkos? Ek is baie lief vir hoender- en visgeregte.
Musieksmaak? My gunstelingmusiek is gospel en ligte klassieke musiek, maar ek luister ook na ander musiek. Hou net nie van jazz en swaar klassieke musiek nie.
Lewensfilosofie? Ek sal nooit my gestremdheid aanvaar nie, maar het geleer om daarmee saam te leef. Dit help nie om op 'n hopie te gaan sit en jouself jammer te kry nie. My hele lewe het verander vandat ek daarop fokus om die lewe vir ander persone met gestremdhede te probeer makliker maak.
Opmerking ten slotte? My boodskap aan die publiek is, maak vriende met 'n gestremde persoon en leer sodoende meer van ons leefwêreld. Dit sal julle help om ons beter te verstaan en te besef dat ons eerstens 'n mens is en daarna een of ander gestremdheid het.