website stats
Google
Free / Gratis



Current issue news: August 2010 Back to previous

Cheetahs: Quo vadis?


Sias Ebersohn - kan op losskakel die angel word waarna die Cheetahs soek.

• Herman Toerien

Is die beste spelers op die veld?

Volgens ondersteunersbriewe is daar verskeie spelers wat nie meer in die beginspan, of selfs op die reserwebank hoort nie. Die probleem is nie soseer 'n onvermoë om goed te speel nie, maar om konstant en vir die duur van die wedstryd goed te speel.

Die sleutel, so lyk dit, is of Juan Smith in die span is. Wanneer hy op die veld is, speel die spelers heelwat beter as wanneer hy nie op die veld is nie.

Om dus te beoordeel watter spelers die trekpas moet kry, moet 'n mens afsonderlike lyste vir en sonder Juan Smith opstel.

Jongi Nokwe se bottervingers het weer min met Smith se aanwesigheid of afwesigheid te make.

Die Cheetahs het hul Curriebeker-aanslag teen WP en Griekwas met skoprugby afgeskop, wat soos in die Super 14 geboemerang het. Teen die Blou Bulle is meer volledige rugby gespeel, maar met te min deurdringings-vermoë. Teen die Haaie was die deurdringsvermoë ook maar eina en is balle op kritieke tye afgestaan – en blykbaar nie altyd wettig afgeneem nie. Besluitneming in die agterlyn laat ooglopend veel te wense oor.

Juis weens die wisselvalligheid is dit moeilik om bloot te sê daar moet plan op slot gemaak word, maar dit kom voor asof die skrumkrag agter die stutte nie sterk genoeg nie. Tertius Carse is 'n logiese keuse as skrumskakel in die beginspan en met Sias Ebersohn langs hom op losskakel, behoort die agterlyn ook meer plofkrag te hê. WJ Jonker lewer deurgaans goeie spel, maar bly op die kantlyn en is selfs al as leenspeler aan die Noord-Vrystaat beskikbaar gestel.

Eerder as om onnodig plaasvervangers op stut op te stuur, moet daaraan gedink word om Coenie Oosthuizen en WP Nel so lank as moontlik as kombinasie te hou. Hierin lê die potensiaal om die bresse te slaan wat die Cheetahs so nodig het.

'n Gelukkige span is 'n goeie span – die tekens is egter daar dat iets haper en dat die ondersteuners nie altyd 'n gelukkige span op die veld sien nie.

Al hoe meer vrae word oor die afrigters, Naka Drotske en Hawies Fourie gevra, ook wat spankeuses betref. Dit raak opvallend opsigtelik dat dié kombinasie op meriete vir Dawie Theron sal moet terugstaan as daar weer afrigters vir die Super 14 Cheetahs aangewys word. Theron ken die kuns om met yler talent meer myle te kry. Sy vermoë om talent raak te sien, is strate beter en hy speel spelers op vorm, nie op reputasie nie.

Special features



Copyright © 2010 Free State Business Bulletin