Die Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk. reageer op die berig in die Julie 2011 uitgawe van Vrystaat Sake Bulletin, “Vrystaat rugby bloei steeds”
In teenstelling met wat berig word, pluk Vrystaat Rugby wel die vrugte van die plaaslik gekweekte top talent met die behoud van vier van ses SA Skolespelers van 2010. Verder is daar ook 68 Junior spelers vir die Absa Curriebeker en Absa Junior kompetisies gekontrakteer.
Spelers soos Sarel Pretorius en Riaan Viljoen waarna daar in die berig verwys word as verlore, is spelers wat deur die Griekwas in Kimberley gekontrakteer is en wat slegs deel was van die Super 15 rugbyspan. Die Vrystaat Cheetahs behou egter al hulle topspelers vir die 2011 Absa Curriebekerkompetisie. Frans Viljoen, wat die laaste jaar met verskeie beserings gesukkel het, is egter die enigste speler wat die Vrystaat verlaat om sy rugbyloopbaan in Italië voor te sit.
'n Suksesvolle vennootskap bestaan tussen Vrystaat Rugby, die Griffons, UV en SUT waar jong talent in die streek behoue bly en ontwikkel word. Die projek behels dat jong spelers wat nie gekontrakteer kan word nie, speelkans by die Griffons, Shimlas, SUT of Vrystaat Cheetahs kry as leenspelers. Op hierdie wyse bly die spelers in die streek en word hulle terselfdertyd wedstrydfiks en hulle talent word steeds raakgesien.
Navorsing wat gedoen is, het bewys dat internasionale rugbywedstryde gedurende 2010 finansieel meer bygedra het tot die ekonomie van Bloemfontein as internasionale sokkerwedstryde. Die navorsing het getoon dat sokkerondersteuners van buite Bloemfontein 'n gemiddelde totaal van R912 per huishouding in die stad spandeer het, teenoor rugbyondersteuners se gemiddeld van R1 807 per huishouding. 'n Totale bedrag van R48 787 205 is deur rugbyondersteuners spandeer teenoor 'n totale bedrag van R9 846 606 wat deur sokkerondersteuners na die stad gebring is.
In die berig word verwys na ondersteuning wat afneem. Dit is egter nie waar nie. Toeskouergetalle het in die laaste twee jaar met 'n gemiddeld van 5 000 toeskouers per wedstryd vermeerder. Die gemiddelde toeskouergetal is 20 000 per wedstryd, waar dit in 2009 / 2010 'n gemiddeld van 15 000 per wedstryd was.
Gedurende die afgelope ses maande het die Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk. die plaaslike en nasionale markte gefynkam vir borge en het suksesvol daarin geslaag om in landswye moeilike ekonomiese omstandighede borgskappe van meer as R30 miljoen te bekom. Hierdie borgskappe kom na die Vrystaat en is direk tot voordeel van Bloemfontein en die streek.
Vrystaat Rugby het werklik die ondersteuning van besighede in die streek nodig en veral ook van publikasies soos die Vrystaat Sake Bulletin, om mense positief te hou. Vrystaat Rugby lok dwarsdeur die jaar duisende mense na die stad, wat op hulle beurt duisende rande hier spandeer en is een van die min instellings in die Vrystaat wat soveel blootstelling aan die beeld van die provinsie gee.