.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> September 2001


Sanlam Sakeweek te Grahamstad grootste entrepreneursindaba in SA


Die Sanlam Sakeleiers van die Toekoms Week wat vanaf 17 tot 21 September 2001 te Grahamstad gehou word, is in omvang sowel as inhoud die grootste indaba in die KMMO-sektor (klein, medium en mikro ondernemings) in Suid-Afrika. Altesaam 72 sprekers en fasiliteerders sal meer as 160 praatjies en werksessies aanbied by die geleentheid, wat na verwagting duisende entrepreneurs, sakelui, leerders, studente en opvoeders van regoor die land trek. Na verwagting sal meer as 15 000 kaartjies verkoop word.

Dié hoogs suksesvolle geleentheid beleef sy derde jaar en is nie net besig om 'n hoogtepunt op die nasionale sakekalender te raak nie, maar is op die amptelike loodsing van die 2001 geleentheid op 16 Augustus bestempel as die grootste van sy soort in Afrika.

Twee kleiner satellietgeleenthede is in Mei 2001 in Gauteng en in Julie in Durban gehou as 'n opwarmingsoefening vir die hoofgebeurtenis. Volgens die projekbestuurder, me. Ingrid Hofmeyr, het die satellietgeleenthede beslis gehelp om die aandag te vestig op die omvattende hoofgeleentheid te Grahamstad. Die beeld van 'n entrepreneur met 'n jakkals se vernuf - wat vanjaar se Sakeleiers van die Toekoms-inisiatiewe voorstel - is geïnspireer deur die praatjie “Hedgehogs and Foxes” wat mnr. Clem Sunter, voorsitter van die Anglo-American Voorsittersfonds, by die geleentheid verlede jaar gelewer het. Van die sprekers wat die grondtoon van die Week vanjaar sal lê, is mnr. Valli Moosa, Minister van Omgewingsake en Toerisme, met 'n praatjie oor toerisme se werkskeppingsgeleenthede, asook Minister van Opvoeding, mnr. Kader Asmal, wat sal fokus op die noodsaaklikheid dat skoolverlaters toegerus moet wees vir die werksrealiteite in die hedendaagse Suid-Afrika. Nasionale sakeleiers soos mnre. Kevin Wakeford, hoof uitvoerende beampte van die SA Besigheidskamer; Pieter van Hoven, besturende direkteur van British Airways Comair en president van die Afrikaanse Handelsinstituut; André Viljoen, die nuwe hoof uitvoerende beampte van SA Lugdiens; Brand Pretorius, uitvoerende hoof van die McCarthy-handelsgroep; en Christoph Köpke, president van die SA Besigheidskamer en hoof van DaimlerChrysler SA, sal ook praatjies lewer.

Onder die ander sprekers tel topmotiveerders, bekende vermaaklikheidsterre en media-persoonlikhede, rolprentmakers en nasionale sporthelde. Twee van die land se beste konsultante op die gebied van strategiese besigheids-ontwikkeling, Sizwe Tati en Ernest Boateng, sal klein en medium ondernemings advies gee oor hoe om geld byeen te bring en hul besighede te bestuur. Dorothy Blacklaws van Entrepreneurship Education Initiative sal 'n reeks van vier dinamiese werksessies aanbied oor knap idees, skoolbesigheidsmagnate, toerismebewustheid en “Awaken the giant”.

Me. Hofmeyr sê Sanlam skep 'n geweldige groot geleentheid vir mense om meer te wete te kom oor die nuutste tendense in entrepreneurskap, asook om noodsaaklike besigheids- en selfbestuurs-vaardighede aan te leer. Sy voeg by: “Kaartjies vir sprekers en fasiliteerders van dié standaard is normaalweg baie duur. Danksy Sanlam se borgskap kan dieselfde praatjies nou by Sanlam se Sakeleiers van die Toekoms-week meegemaak word teen uiters bekostigbare pryse.”

Al die sleuteltoesprake en werksessies ressorteer onder ses hooftemas: Entrepreneurskap, inligtingstegnologie, sakeleierskap, selfmotivering en bestuur, globalisering en finansiële vernuf. Die geleentheid is só gestruktureer dat individue kan kies watter praatjies of werksessies hulle wil bywoon. Sekere aanbiedings en werksessies sal lewendig oor die Internet uitgesaai word. Kykers regoor die land sal dus met netwerkgekoppelde rekenaars aan werksessies kan deelneem. Die aanbiedings sal ook maande lank op die Sakeleiers van die Toekoms-webruimte by www.fbl.co.za beskikbaar wees.

Die volledige program is van begin Augustus by dieselfde webadres beskikbaar. Kaartjies sal ook aanlyn by TicketWeb www.ticketweb.co.za bespreek kan word, of per telefoon by 083 140 0500. Vir meer inligting kan tel (046) 622-4780 geskakel word.


Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2002 Web D-Zign Inc. All rights reserved.