.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 31 July 2007


Nuwe Bains Game sekuriteitsdorpie reuse hupstoot vir Bloemfontein


• Johann Dannhauser

Die wiele is aan die rol vir die ontplooiing van 'n sekuriteitsdorpie (“security village”) op die 42 ha terrein van Bains Game Lodge 2 km wes van Bloemfontein op die Bainsvlei / Dealesvillepad. Die dorpie sal na beplanning insluit 'n verskeidenheid van konferensiegeriewe; akkommodasie wat wissel van gastekamers, 'n hotel en selfsorgeenhede tot chalets; verskeie restaurante; deeltitelwoonstelle; winkels; en gesondheidsfasiliteite. As sulks beteken die ontwikkeling in terme van omsetgenerering en werkskepping alreeds 'n reuse hupstoot vir die plaaslike ekonomie.

Tot onlangs het Bains Game Lodge bestaan uit 'n groot ontvangslokaal, verskeie konferensiesale, twee restaurante, kroegfasiliteite, gastekamers, losstaande chalets en 'n aantal wildsoorte. Die Lodge is onlangs met 'n PMR Golden Arrow-toekenning bekroon as die beste akkommodasie in die Vrystaat wat nie 'n hotel is nie.

Tans is die volgende uitbreidings op die terrein van Bains Game Lodge in 'n proses van voltooiing:

Die Bains Game Lodge Hotel aan die noordekant van die bestaande geriewe en wat bestaan uit twee drieverdiepingsblokke hotelkamers met 'n totaal van 108 kamers. Met drie-sterstatus gaan die kamers op deeltitelbasis verkoop word en kopers kan deel in' n huurpoelstelsel, met 'n gewaarborgde huurinkomste. 74 van die kamers is reeds verkoop.

‘n Firkin restaurant en kuierplek - die grootste eenheid in die land vir die bedryfsreggroep. Finale afronding aan die doelgemaakte dubbelverdiepinggebou, met sitkapasiteit vir 800 mense en ontwikkel teen 'n koste van R11 miljoen, word tans gedoen. Dit sal die vlagskip van die Firkin-groep wees en word geskoei op die gewilde en suksesvolle resep van die Firkin in Centurion, waar menige Suid-Afrikaanse sangers, sanggroepe of orkeste hul eerste merk gemaak het. Die amptelike opening word vir Oktober vanjaar beplan. Nog vir ontwikkeling vanjaar is die volgende verdere uitbreidings reeds goedgekeur:

Aanvulling van die bestaande 200 oornaggeriewe met 'n verdere 100 geriewe. Tans ondervind Bains Game Lodge 'n voortdurende tekort aan oornaggeriewe.

'n Splinternuwe ontvangslokaal op dubbelverdiepinghoogte reg voor (suid) van die bestaande ontvangslokaal. Die twee ontvangsareas sal dan aanmekaar skakel.

'n Reuse konferensiesentrum wes van en reg langsaan die nuwe ontvangs en bestaande uit twee sale wat elk tot 500 konferensiegangers sal kan laat sit, asook ontbytlokale. Die vooraansig van Bains Game Lodge sal dan bestaan uit basies drie groot dubbelverdiepingeenhede – in die middel die ontvangs, oos daarvan die Firkin en wes daarvan die konferensiesentrum.

Woonsteleenhede aan die noordekant van die nuwe hotel en bestaande uit enkel-, eenslaapkamer- en tweeslaapkamerwoonstelle. Dit word ook op deeltitel verkoop.

In 'n verdere fase binne afsienbare tyd word die opgradering van Chalet Park aan die oostekant van die bestaande Lodge beoog. Die nuwe 80-200 m² chalets sal bestaan uit selfsorgeenhede wat op 'n deeltitel- sowel as lewensregbasis verkoop word en wat aan permanente inwoners die geleentheid bied om rustig te kan verkeer en nie deur aktiwiteite van tydelike gaste ontwrig hoef te word nie. Dit beteken dat die potensiaal vir 'n aftree-oord bestaan.

Op die westelike deel van die terrein word vir 'n latere stadium 'n meenthuisuitbreiding met geriewe soos 'n gimnasium, gesondheids- en skoonheidsklinieke en 'n winkelsentrum beplan.

Belangrik omtrent die hele Bains Game Lodge ontwikkeling is dat dit bedien sal word deur streng 24-uur sekuriteit met omheining reg rondom en beheerde toegange. Die besturende direkteur van die twee ontwikkelingsmaatskappye, Bainsvlei Lodges en Oakleaves Investments, mnr. Marius Strydom, sê die basiese idee is om bekostigbare lewenstyl en sekuriteit te skep.

Strydom sê voorts die Bains Game Lodge ontwikkeling word ook gedoen met die plaaslike behoeftes vir die 2010 Wêreldbeker sterk in gedagte, hoewel dit so ontwerp word dat 2010 ook net 'n fase sal wees. Volgens hom sal die nuwe ontwikkeling aan besoekende sokkerspanne met afrigtingskorps en ondersteuners die geleentheid bied om eenstop verblyf-en-leef te geniet in die sin dat geriewe vir woon, eet, ontspanning en koop op een terrein beskikbaar is.

Strydom sê riool-, elektrisiteits- en ander infrastruktuurdienste is òf in plek of baie bevredigend in 'n proses om in plek te kom. Waarop ook gewys moet word, is dat die landelike karakter van die ontwikkeling, wat insluit verskeie wildsoorte en natuurlike inheemse plantegroei, dwarsdeur die proses behou word. Met die aankoop van nog 21 ha by die bestaande terrein word ontwikkeling eerder uitgesprei as opmekaar gestapel.

Die bemarking van alle deeltiteleenhede van die ontwikkeling word deur Pam Golding Eiendomme (PGP) behartig. Die plaaslike bemarkingsbestuurder van PGP, me. Marié Coetzee, sê die projek, wat uiteindelik R1 miljard in ontwikkelingskoste behoort te beloop, is een van die grootstes nog van sy soort in die Vrystaat.

Sy sê voornemende beleggers het 'n keuse uit 324 hotelkamers en 297 selfsorgeenhede. Die driester-hotelkamers word teen R550 000 van die hand gesit. Die kamers se oppervlakte is 24,4 m² en elkeen het sy eie badkamer. Die selfsorgeenhede se pryse begin op R320 000 en is beskikbaar vanaf ateljeewoonstelle tot tweeslaapkamer-eenhede.


Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2008 Web D-Zign Inc. All rights reserved.