

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 15 December - 31 January 2006
Die nuwe brandstofbedeling wat op 1 Januarie 2006 in Suid-Afrika in werking tree, kan die ekonomie van die Vrystaat ingrypend verander deurdat die weg gebaan word vir produksie plaaslik van biobrandstof, wat weer wydverspreide werkskepping op die platteland tot gevolg kan hê.
Ingevolge die beleid van die regering om lugbesoedeling te verbeter deur skoner brandstof vir voertuie daar te stel, sal loodvrye brandstof vanaf 1 Januarie 2006 duurder kos. Terselfdertyd sal brandstof met loodinhoud nie langer in SA vervaardig word nie, terwyl vanaf 4 Januarie 2006 - die eerste werksdag ná die vakansie - loodbrandstof en diesel met 'n hoë swaelinhoud by dienstasies uitgefaseer sal word soos dit opgebruik word. In die plek van die brandstof wat uitgefaseer word, word petrol en diesel met 'n hersaamgestelde en minder besoedelende effek voorsien.
Met omgewingsbewustheid wat wêreldwyd toeneem, word die ontwikkeling van biobrandstof, d.w.s. brandstof van plantaardige oorsprong, al meer 'n gesogte opsie. Dit het al daartoe aanleiding gegee dat die eerste etanol-aanleg vir die vervaardiging van brandstof uit mielies teen Maart 2006 op Bothaville teen sowat R640 miljoen deur Etanol Africa opgerig gaan word. Na beplanning sal die aanleg 24 uur per dag loop en sal sowat 14 000 direkte en indirekte werksgeleenthede skep. Dit word bereken dat rondom 'n etanol-aanleg uiteindelik verwante ekonomiese aktiwiteite van sowat R300 miljoen plaasvind. 'n Etanol-aanleg kan sowat 473 000 liter etanol daagliks produseer en benodig daarvoor sowat 1 200 ton mielies per dag.
Nog 'n produk wat by die Bothaville-aanleg beplan word, is bio-etanoljel, wat pleks van paraffien in spesiale etanolstofies gebruik word en suksesvol deur veral mense in lae-inkomstehuishoudings aangewend kan word. Dit is geurloos, brand nie as die stofie omval nie, is 'n suiwer organiese produk en het ook groot werkskeppingsmoontlikhede. Wit- of geelmielies, koring, sorghum, bittersorghum en casava kan vir etanol gebruik word. “Dit is nie 'n baie tegniese proses nie. Dit is eintlik maar mampoerstokery op groot skaal,” sê mnr. Johan Hoffman van Etanol Afrika.
Van die ander sentra waar etanol-aanlegte oorweeg word, is in die Vrystaat Hoopstad, Bultfontein en Bethlehem, asook buite die provinsie Schweizer-Reneke Lichtenburg en Ventersdorp.
Die nasionale kabinet het pas in beginsel die daarstelling van 'n biobrandstofnywerheid en die ontwikkeling van 'n nasionale biobrandstofstrategie vir SA goedgekeur. Dit beteken dat die regulatoriese raamwerk vir die ontplooiing van 'n grootskaalse biobrandstofnywerheid in SA in 'n proses is om geskep te word. Vir die mediumtermyn is die oogmerk om biobrandstof volgens 'n koers van 1 : 10 te meng met konvensionele oliebrandstof met lae loodinhoud ten einde oktaangehalte te verhoog.
Dit beteken dat, gegee die 11 miljard liters petrol wat jaarliks in SA verbruik word, is daar ruimte vir sowat 1,1 miljard bio-etanol liters per jaar. Ekonomiese lewensvatbaarheid bly natuurlik deurslaggewend, maar dit word bereken dat vir SA bio-etanol geproduseer kan word teen R2,50 per litter, terwyl die basiese plaaslike brandstofprys meer as R3 per liter is.
Wat ook veral belangrik is, is die werkskeppende gevolge wat biobrandstof kan hê. Dit word bereken dat die produksie van laasgenoemde per eenheid meer as 100 meer werkgeleenthede sal skep as wat ru-olieraffinering tans doen.
In 'n insiggewende artikel in die tydskrif Engineering News, 2-8 Desember 2005, word deskundige menings aangehaal dat nie net bestaande kommersiële graanboere baat kan vind om hul huidige produksie-oorskot na die biobrandstofbedryf te kanaliseer nie, maar dat veral plattelandse opkomende kleinboere ook winsgewend daartoe kan bydra. So bv. kan met behulp van drupbesproeiing soos in Israel een kleinboer wat twee eenhede van 0,2 ha elk bewerk, 10 ton mielies en 10 ton sojabone per jaar produseer - 'n nodige en waardevolle bydrae tot die biobrandstofnywerheid.
Die voorbeeld word ook aangehaal van 'n boer van die distrik Wolmaransstad, mnr. Jasper van Zyl, wat reeds suksesvol op sy plaas 80 000 liter biodiesel per jaar uit sonneblom vervaardig. Die biodiesel is helder geel in kleur, is reukloos en bevat geen swael nie. Daarby het dit as neweproduk oliesaadkoek vir beesvoer.
Wat ook duidelik geblyk het uit die ondersoek deur die Vrystaat Sake Bulletin, is dat die tegnologie van die biobrandstofbedryf-in-wording sy groeipunte ondervind, veral wat betref aanpasbaarheid tussen gehalte van biobrandstof en die meganika waarbinne die funksioneer. Sover dit die publiek aangaan, moet veral daarop gelet word dat die gehalte van brandstof moet voldoen aan gestelde vereistes.
Nietemin, in die Vrystaat met sy hoë graanproduksie en verklaarde strewe na plaaslike waardetoevoeging tot landbouprodukte, kan ontwikkeling van die biobrandstofbedryf 'n impak maak op werkskepping, veral rondom plattelandse dorpe met hul groeiende plakkergemeenskappe en werkloosheid. Die potensiaal is klaarblyklik daar dat indien die ontwikkelingsproses reg bestuur word - deur sentrale, provinsiale en plaaslike regering, asook deur georganiseerde landbou - kan doelgerigte ontginning uiteindelik betekenisvol bydra om die gesig van die ekonomie van die Vrystaat te verander.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2006 Web D-Zign Inc. All rights reserved.