.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 23 Janaury 2007


Geweldige groot woonuitbreidings Bloemfontein


• Johann Dannhauser

Die aanduidings is dat geweldige groot uitbreidings van woongebiede vanjaar in Bloemfontein gaan plaasvind. Die grootste is die gebied suid van Langenhovenpark en wes van die verlenging van Totiusstraat, strekkende tot aan die Petrusburg-pad, waar Ceciliapark vanaf Maart vanjaar ontwikkel gaan word. Dit beslaan 'n totale oppervlakte van 151 ha, maar sluit die stuk grond uit op die hoek van die verlenging van Wynand Moutonrylaan en die westekant van die N1 wat aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie behoort. Ceciliapark, wat deur Property Commerce van Bloemfontein in samewerking met Pinnacle Point Operations van Kaapstad ontwikkel word, behels 355 enkelwoonerwe en 80 meenthuiserwe, vir 'n uiteindelike totaal van 1 690 wooneenhede. Daarbenewens is daar ook 'n erf vir 'n primêre skool, twee kleuterskoolerwe, een kerkerf en een besigheidserf uitgesit. Die hele Ceciliapark-ontwikkeling word in vyf fases gedoen, met die eerste wat in Maart 2007 begin en daarna 'n fase elke ongeveer ses maande. Die verlenging van Wynand Moutonrylaan en die aansluiting by Totiusstraat word verbreed om 'n vierbaanrylaan te vorm, terwyl die brug oor die N1 ook verdubbel gaan word. Daar kom ook straataansluitings na die Petrusburgpad. Na raming gaan die Ceciliapark-ontwikkeling die plaaslike ekonomie met sowat R1 395 miljoen bevoordeel. 'n Tweede groot woongebied-uitbreiding is te Pentagonpark noord van die stad waar die Danso Besigheidstrust van mnr. De Villiers Brink in 'n proses is om 13 meenthuiskomplekse met altesaam 700 wooneenhede, asook 'n klein kantoorblok, te ontwikkel. Die ontwikkeling strek oor vier jaar en verlede jaar is reeds twee meenthuiskomplekse van onderskeidelik 28 en 59 eenhede voltooi, terwyl tans twee verdere komplekse met onderskeidelik 23 en 30 eenhede afgerond word. 'n Groot deel van die ontwikkeling is langs die pasvoltooide verlenging van Calliopestraat.Derdens word 'n woonontwikkeling met die naam Crassula aangrensend aan Northridge Mall gedoen en wat sal bestaan uit 160 losstaande meenthuise volgens vier verskillende basiese planne. Bemarking begin reeds volgende maand en die ontwikkelaars is ook Property Commerce. Die projek sal na verwagting in 2008 voltooi word. Pryse wissel van R680 000 vir 'n tweeslaapkamereenheid tot R1,1 miljoen vir 'n groter drieslaapkamereenheid. Vierdens verneem die Vrystaat Sake Bulletin by 'n woordvoerder van River Valley Properties dat die Morgenzon Landgoed-ontwikkeling in Bainsvlei op die Abrahamskraalpad en wat bestaan uit 40 wooneenhede met elk 4 ha grond wetlik goedgekeur is en dat konstruksie aan die infrastruktuur Maart 2007 in aanvang neem. Al hierdie woongebiedontwikkelings behoort die reeds borrelende ekonomie van Bloemfontein 'n verdere sterk hupstoot te gee. Dít egter te midde van aanduidings uit die nuutste bousyfers van Stats SA dat die groei in boubedrywighede van residensiële eiendom landswyd van residensiële eiendom tussen September en November 2006 met ongeveer 8% afgeplat het en 'n algemene afkoeling van die huismark reflekteer. Sover die Vrystaat Sake Bulletin kon vasstel, is daar op ander sentra in die provinsie ook nie dieselfde groot woongebiedontwikkeling as in Bloemfontein nie. Te Welkom is 'n paar projekte in die pyplyn, maar huidige huispryse oortref boukoste steeds aansienlik. Te Kroonstad word die ontwikkeling van 200 nuwe erwe te Elandia-woongebied beoog, maar inwoners maak beswaar vanweë die vermoede dat dit van laekostestandaard gaan wees. Te Bethlehem is die belangrikste die Wesselheim Landgoed by Loch Athlone in die dorp wat tans met sy 65 eenhede en eksklusiewe fasiliteite bemark word. Wat natuurlik wel elders in die Vrystaat aan die gang is, is die ontwikkeling van 'n paar groot gholf- en sportlandgoede, waaroor die Vrystaat Sake Bulletin verlede jaar uitvoerig berig het. Daar is egter nog ander eindomsontwikkelings in die provinsie onder beplanning, veral groot besigheidsontwikkelings en die Vrystaat Sake Bulletin beoog om vorentoe sy lesers op hoogte te hou.


Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2008 Web D-Zign Inc. All rights reserved.