

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 23 February 2007
• Johann Dannhauser
Dat die leeubedryf in die Vrystaat moontlik die grootste in die land is van al die provinsies en selfs die sterkste in Afrika, is van die verrassende en hoogs interessante feite wat na vore gekom het op die indaba oor die wildbedryf in die Vrystaat wat op 15 Februarie 2007 by die Vista-kampus van die Universiteit van die Vrystaat gehou is.
Die indaba is gereël deur die Vrystaatse Dept. van Toerisme, Omgewing- en Ekonomiese Sake onder leiding van LUR Neo Masithele.
Onder “leeubedryf” word verstaan boer met leeus “in aanhouding” op private wildsplase en dit sluit in die ontginning van leeus vir jag-, teel- en toerismebesigtingingsdoeleindes. Leeus “in aanhouding” behels leeus waarmee geboer word onder streng owerheidsregulasies en –permitstelsels en is te onderskei van “vrylopende” leeus, d.w.s. leeus in die nasionale wildparke soos die Kruger Nasionale Wildtuin, die Kalahari Gemsbokpark en 'n klompie elders soos in die Addo Nasionale Wildtuin – dit alles tesame met die nuwe oorgrensparke.
Uit syfers wat deur deskundige sprekers op die wildindaba genoem is en wat die Vrystaat Sake Bulletin later nagevors het, blyk dit dat daar ongeveer 1 500 leeus in totaal in SA in private besit is, d.w.s. in aanhouding, terwyl die aantal vrylopende leeus op ook ongeveer 1 500 geskat word. Hoewel die presiese getal leeus in private besit in die Vrystaat moeilik is om te bepaal, word dit op “etlike honderde” geskat – en behels waarskynlik die sterkste leeubedryf in SA.
In Afrika is na raming tot ongeveer 30 000 leeus, die meeste waarvan vrylopend is in Oos-Afrika in lande soos Kenia en Tanzanië. Nêrens elders op die vasteland word leeus egter op so 'n skaal aangehou en mee geboer soos in die Vrystaat nie.
Die Assistent-direkteur Bewaring van die Dept. van Toerisme, Omgewing- en Ekonomiese Sake, mnr. Hannes Blom, het op die indaba gesê dat van die 280 wildplase in die Vrystaat word daar op 95 met leeus geteel. Dié plase beslaan 'n area van 285 000 ha. Slegs 'n klein persentasie van die leeus in die Vrystaat word gejag en die meerderheid word verkoop. 'n Leeumannetjie behaal tussen R143 000 en R179 000.
Op slegs twee plase in die Vrystaat word leeus gejag en dit onder uiters streng voorwaardes – een plaas is naby Winburg en die ander by Exelscior. Die area waarin die leeus aangehou word, mag nie kleiner as 1 000 ha wees nie, terwyl die leeus al vir ten minste drie maande vrylopend in die kamp moes gewees het.
Nog 'n spreker op die wildindaba was prof. HO de Waal van die Dept. Vee-, Wild- en Weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat en stigter van die organisasie African Large Predator Research Unit (ALPRU). Hy het gesê die wildboerdery is 'n baie groot bedryf in Suid-Afrika. Dit is veral die private sektor wat die meeste tot die bedryf en bewaring bydra met 20,2 miljoen ha onder private en 7,5 miljoen ha onder regeringsbeheer uit die totale landoppervlakte van SA van 122,2 miljoen ha.
Volgens De Waal is die wildbedryf egter hoogs gespesialiseerd, terwyl dit groot kapitale belegging en kundighede vereis. Vir meer besonderhede kan hy gekontak word by e-pos dewaalho.sci@mail.uovs.ac.za.
Dit het ook op die wildindaba geblyk dat die wildbedryf 'n stewige bydrae tot die Vrystaatse ekonomie lewer. Trofeejag bring 'n ongelooflike R60,5 miljoen per jaar in die plaaslike ekonomie in, amper 10 keer meer as wat daar met wildveilings gemaak word (ongeveer R6,5 miljoen in 2006). Van die bruto geografiese produk van die Vrystaat van om en by R44,1 miljard, dra die toerismesektor 3% by. Trofeejag sorg ook dat sowat 800 buitelandse toeriste die provinsie jaarliks besoek, wat dit die vierde grootste jagbestemming in SA maak. Daar word jaarliks ongeveer 3 700 diere gejag, wat nie insluit sowat 10 000 voëls wat per jaar geskiet word nie. Van die voëlsoorte word watervoëls en fissante die meeste gejag.
Die wildbedryf in die Vrystaat bied werksgeleenthede aan ten minste 5 000 mense. Dit sluit in van skoonmakers tot spoorsnyers en van taksidermiste tot afslagters. Verder is die arbeidsmag beter opgelei en word hulle ook gemiddeld meer betaal as die werkers in die gewone landbousektor. Van die probleme in die wildbedryf is onder andere koste verbonde aan die aankoop van die wild, asook die groot areas wat benodig word om wild suksesvol oor die langtermyn aan te hou.
'n Taakspan is in die vooruitsig gestel wat ondersoek sal doen na die Vrystaatse wildbedryf en die moontlikhede wat dié bedryf inhou.
'n Finale indruk: Dit wil voorkom of die Vrystaat die beste plek is om die leeuloop te beoefen!
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2008 Web D-Zign Inc. All rights reserved.