.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 20 November 2006


Groot gebrek aan besigheidspersele wes en noord van Bloemfontein wurg ekonomie


• Johann Dannhauser

'n Opmerklike gebrek aan persele gesoneer vir besigheidsdoeleindes,veral kantore, aan die weste- en noordekant van Bloemfontein is besig om algemene ekonomiese ontwikkeling te wurg. Hoewel veral residensiële ontwikkelings wes en noord van die stad op 'n galop plaasvind, is daar aan daardie kant van die stad weining of geen besigheidspersele, insluitende kantoorruimte, beskikbaar nie. Dit geld sowel beboude as onbeboude persele. Noord en wes van die Bloemgate Sentrum is dit, afgesien van beperkte kantore te Preller Plein en die Heuwelsig Winkelsentrum, slegs die kantooreenhede wat tans te Maretha Maartensstraat in Langenhovenpark voltooi word, wat gesoneer is vir kantore. 'n Ondersoek van die Vrystaat Sake Bulletin het aan die lig gebring dat hoewel baie sterk uitbreidings aan die weste- en noordekant van die stad plaasvind, bv. die Woodlands-ontwikkeling en Groenvlei / Bainsvlei-area, moet daar vir elke enkele besigheids- of kantoorvestiging deur die betrokke entrepreneur aansoek gedoen word by òf die Munisipaliteit of die Dorperaad òf albei, afhangende van die meriete van elke geval en dan word dit gehanteer streng volgens regulasies en voorskrifte. Daarby wil dit voorkom of die Munisipaliteit in terme van sy Geïntegreerde Ontwikkelingsplan oftewel “Integrated Development Plan” (IDP) eerder ten gunste is van stads- en besigheidsuitbreiding aan die oostekant van Bloemfontein / Mangaung. Desnieteenstaande is daar ook ooglopend 'n baie sterk natuurlike ontwikkelingstendens na die weste- en noordekant – iets wat klaarblyklik bots met onbuigsame burokrasie. Afgesien van beperkte gebiede soos die middestad, Willows, Hilton, ens., het die Munisipaliteit bepaalde areas in Westdene tot en met Brillstraat geoormerk vir toelaatbare kantoor- en / of besigheidspersele, maar dit is al. Daar is egter talle woonpersele in areas soos Dan Pienaarrylaan, Brandwag, Parkwes, Eeufeesweg, ens. wat duidelik hul residensiële karakter verloor het en die toekoms waarvan kommersieël van aard geword het. Sou 'n entrepreneur egter nou 'n woonhuis in een van hierdie areas wil omskep in 'n kantoorperseel, loop hy/sy hom of haar vas in die Munisipale regulasies. Dié bepaal nl. dat 'n woonhuis gesoneer vir residensiële doeleindes slegs vir besigheids- of kantoordoeleindes gebruik kan word indien die eienaar vir 'n “tuisbedryf” aansoek doen, die riglyne waarvan bepaal hy of sy moet die perseel self bewoon, mag nie meer as twee nie-inwonende personeel hê nie en mag nie meer as 50 m² van die totale vloeroppervlakte vir besigheid / kantoor benut nie. Die alternatief is om aansoek te doen vir hersonering, maar dié geskied by die Dorperaad, met 'n aansoekfooi van R5 000 en wat die saak na die Munisipaliteit verwys waar 'n verdere fooi van sowat R800 betaalbaar is. Oor die algemeen blyk die kans vir sukses van so 'n aansoek minder as goed te wees. Die feitelike situasie is verder dat indien 'n besigheids- of kantoorgesoneerde perseel, in, sê, Westdene of Willows, gekoop word, dit waarskynlik 'n perseel met baie ou geboue op is en waarvoor hemelhoë pryse gevra word. As dan die geboue gesloop wil word vir nuwe doelmatige geboue, maak dit die aanvangsbelegging feitlik onlonend hoog. Intussen is die ironie dat honderde indien nie duisende besighede vanaf residensieël-gesoneerde erwe sonder Munisipale goedkeuring bedryf word en dit sonder dat die Mangaung Plaaslike Munisipaliteit oënskynlik iets daaromtrent doen. 'n Probleem is sekerlik dat indien teen een opgetree word, moet teen almal opgetree word. Hierdie is die feitlike situasie soos die Vrystaat Sake Bulletin dit geruime tyd reeds ná deeglike ondersoek teengekom het. Die slotsom is eenvoudig dat erge rigoristiese Munisipale regulasies die sterk natuurlike besigheidsuitbreiding na die weste- en noordekant van die stad ernstig strem – met uitkringende nadelige ekonomiese effek. Daar kan uiteraard verwag word dat hierdie artikel kommentaar uit verskillende oorde sal trek. Ter wille van opbouende debattering is die Vrystaat Sake Bulletin bereid om alle redelike, gefundeerde kommentaar te publiseer indien dit ontvang word – by editor@bulletinonline.co.za of faks (051) 430 7562.


Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2008 Web D-Zign Inc. All rights reserved.