

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 1 Februarie 2005
Met die doen van die promosie en besoek aan die dorp, was die Vrystaat Sake Bulletin aangenaam verras met die gehalte van besigheid op Boshof en in die distrik. Daar is gesonde en groeiende besighede, met kundige entrepreneurs - mans sowel as dames - wat die leisels vashou. Voorbeelde is vervat in die advertensies in hierdie promosie. Hierdie is grotendeels die mense wat Boshof dra.
Maak nie fout nie, Boshof is 'n Vrystaatse plattelandse dorp, maar die plaaslike ekonomie toon beslis veerkrag. Dit is anders as talle ander plattelandse dorpe in die provinsie wat ooglopend die kreeftegang gaan. Wat Boshof baie help, is 'n sterk boerderydistrik en dan die feit dat dit slegs 55 km vanaf Kimberley geleë is.
'n Tendens is dat heelwat mense wat in Kimberley werk, woon op Boshof en ry elke dag heen en weer. Daar is ook ander stedelinge wat na Boshof uitgewyk het en in die dorp met besighede begin het. Dit het eiendomspryse op die dorp positief beïnvloed. Hoewel die N8 roete oor Petrusburg verkeer tussen Bloemfontein en Kimberley verminder het sover dit Boshof betref, lyk dit egter nie of dit juis 'n terugslag was nie.
'n Gemiddelde drieslaapkamerhuis met twee badkamers te Boshof blyk ongeveer R200 000 te kos, hoewel so 'n grootte huis van goeie gehalte onlangs vir R350 000 verkoop is. Nuwe tweeslaapkamer meenthuise wat op die dorp gebou is, verkoop vir R310 000. 'n Hoë woonerf kos ± R10 000. In die nywerheidsgebied is geen erwe van die Munisipaliteit te koop nie - dié in private besit kos blykbaar ± R30 000.
In geheel gesien, bied Boshof beslis potensiaal vir belegging, beide wat betref om 'n besigheid te begin of om van buite daar in eiendom te belê.
'n Wesentlike probleem te Boshof is, soos by alle Vrystaatse dorpe en stede, 'n hoë werkloosheidsyfer en gepaardgaande armoede. Iets daadwerkliks sal duidelik daaraan gedoen moet word. Waarskynlik lê 'n antwoord in plaaslike waardetoevoeging tot plaaslike landbouprodukte. Kleinere aanlegte sal op die dorp begin moet word om bv. plaaslik-geproduseerde vleis, velle, wol en wildsprodukte, asook van die graanprodukte, te verwerk, met gepaardgaande werkskepping en die verwerkte produkte dan “uit te voer” na groter sentra en selfs die buiteland.
Toerisme is ook 'n sektor wat plaaslik aansienlik ontwikkel kan word.
In Seretse is 'n “Garden Project” wat deur die Vrystaatse Dept. van Landbou op die been gebring is en wat steeds aan die gang is. Terselfdertyd word die Relathabetsi Sewing Group deur die Dept. van Arbeid geborg en waardeur dames vir 'n verskeidenheid van poste opleiding ontvang. Kontaknr. (053) 541 0118.
Die misdaadsyfer te Boshof is relatief laag.
Plaaslike ekonomiese ontwikkeling te Boshof berus grotendeels by die plaaslike munisipaliteit Tokologo. Hulle het immers 'n “Local Economic Development” afdeling met goedgesalarieerde amptenare in plek en 'n “Integrated Development Plan” (IDP) waarvolgens ontwikkeling gedoen moet word. Hiervan is egter ongelukkig nie veel te sien op die dorp nie.
Wat ook opmerklik is, is dat die instandhouding van plaaslike infrastruktuur veel te wense oorlaat, bv. volop gate in teerstrate (“potholes”).
Nog 'n sleutelaspek wat gesê word aandag sal moet kry, is watervoorsiening aan die dorp. Tans is die hoofbron munisipale boorgate, maar die algemene watertafel is besig om te daal. 'n Alternatief wat genoem word, is om uiteindelik 'n pypleiding aan te lê vanaf die Oppermansdriftdam by Bloemhof na Boshof en dan kan Hertzogville ook sommer bedien word. Dit sou egter 'n projek wees waarby die Dept. van Waterwese en Sedibeng Water ook betrokke moet wees.
Daar is 'n goeie ouetehuis op Boshof - Huis Goedversorg - met ongeveer 60 inwoners en 'n afdeling vir verswakte bejaardes.
'n Maandelikse nuusblaadjie, Boshof Kontrei, bevat plaaslike nuus, foto's en advertensies. Kontakpersoon Rolanda van den Heever (053) 541 0018.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2006 Web D-Zign Inc. All rights reserved.