.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 1-16 April 2005


"Tweede Sun City" (sonder casino) kom in Vrystaat


Bouwerk aan 'n binnelandse vakansie-oord met dieselfde kenmerke en omvang – moontlik selfs groter – as Sun City begin eersdaags in die Noord-Vrystaat op die oewer van die Vaaldam. Die Lizard Point-projek geleë tussen Deneysville en Oranjeville gaan 'n węreldklasoord wees met gholflandgoed, sessterhotel, ultramoderne marina- en strandgeriewe en top internasionale fokus of veelvuldige sportpromosie en sporttoerisme.
Dit word ontwikkel deur Acc-Ross Holding Limited met hoofkantoor te Pretoria en wat verlede maand op die JSE se Altx gelys het, op 700 ha grond teen 'n totale uiteindelike projekkoste van nagenoeg R4 miljard. Onder die slagspreuk “Links and leisure, from fairways to waterways”, bevat die ontwikkeling van Lizard Point geen casino nie, maar word dit geskoei op die beginsel van gesinsakkommodasie in verskillende fassette.
Die Groepsbemarkingsbestuurder van Acc-Ross Holding Limited, mnr. Ray Wicksell, het aan die Vrystaat Sake Bulletin gesę in Fase 1 is al 513 kaal erwe vir die gholflandgoed, wat in pryse gewissel het tussen R710 000 en R1,2 miljoen, uitverkoop en konstruksie van die huise, die sesster boetiekhotel en ander fasiliteite begin in April 2006. Alle goedkeurings is in plek.
Die eerste van die twee gholfbane word mede-ontwerp deur Retief Goosen met die oog op gebruik vir top internasionale toernooie. Vir die ontwerp van die tweede gholfbaan word een van die voorste vrouegholfspelers in die węreld oorweeg.
Ander kenmerke van Lizard Point sluit in moderne winkelsentrums, 'n rits restaurante en uitstekende fasiliteite en bane vir 'n menigte sportsoorte. Laasgenoemde word spesifiek met toeskouergeriewe toegerus met die doel om dit vir internasionale televisiedekking en bevordering van sporttoerisme aan te wend. Hierin speel die ontplooiing van waterverwante sportsoorte ook 'n sleutelrol en waarvoor die mees byderwetse seiljag-, roei- en motorbootgeriewe beplan word. Die bestuur en bemarking in hierdie verband word gedoen in oorleg met die bekende International Management Group (IMG).
Terwyl die natuurlike Vrystaatse landskap in die estetiese beplanning behou word, word die waterkantgeriewe aan die Vaaldam in seehawestyl ontwerp. Die argitektonika van die geboue is Mauritius-plantasiestyl.
Behalwe vir toeganklikheid van Vrystaatse kant, is Lizard Point minder as 'n uur se ry vanaf die Rand en Johannesburg Internasionale Lughawe – dus nader as bv. attraksies soos Sun City.
Dit is wat betref Fase 1 van die ontwikkeling, wat in Desember 2007 in bedryf behoort te wees. Die res van Lizard Point word in drie verdere fases ontwikkel oor 'n 10-jaar tydperk en wat o.m. insluit 'n verdere 489 residensiële eenhede, nog 'n waterfronthotel en verdere sport- en besigheidsfasiliteite.
Verseker is Lizard Point waarskynlik die grootste en omvangrykste gekombineerde residensiële, vermaaklikheids- en besigheidsontwikkeling wat nog op Vrystaatse bodem aangepak is. As sulks behoort dit 'n reuse hupstoot aan ekonomiese ontwikkeling in die Noord-Vrystaat te gee en aansienlik by te dra tot werkskepping.
Lizard Point vorm ook deel van fenomenale ontwikkeling wat tans op die oewers van die Vaaldam aan sowel die Vrystaatse as die Gauteng-kant plaasvind teen 'n totale beraamde koers van bykans R7 miljard – 'n streek wat ontsettend in gewildheid toeneem.
Vir meer besonderhede oor Lizard Point, besoek www.lizardpoint.co.za.

Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2006 Web D-Zign Inc. All rights reserved.