

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 19 June 2007
• Johann Dannhauser
Al die rouriool van Wepener, wat insluit dié van die dorp self sowel as van die woonbuurt Kanana, loop al vir minstens drie maande direk in die Sandspruit in die dorp, waarmee dit 5,4 km later in die Caledonrivier inloop, waarmee dit weer 20 km later in die Welbedachtdam inloop. By laasgenoemde is die suiweringsaanleg en pompstasie van Bloem Water, wat water pomp na die reservoir by Brandkop, Pellisier, waarvan die suidelike deel van Bloemfontein, asook gedeeltes van Botshabelo en Thaba Nchu, van drinkwater voorsien word.
Hierdie situasie is onder die aandag van die Vrystaat Sake Bulletin gebring en is deur 'n ondersoek bevestig. Meegaande is van die foto's wat geneem is.
Wepener ressorteer onder die Naledi Plaaslike Munisipaliteit, met setel te Dewetsdorp. Te Wepener is 'n rioolsuiweringsaanleg met oksidasiedamme, waarvan die pompstasie sedert 2005 ontoereikend geraak het. Aan die begin van 2006 was die pompstasie vir maande totaal buite werking gewees en het rouriool van die dorp eenvoudig direk in die Sandspruit ingeloop. ‘n Nuwe pompstasie is gebou en in Oktober 2006 in werking gestel. In Maart 2007 is ‘n tydelike chlorineringsaanleg op kontrak vir die suiweringswerke gebou, maar dié het nog nooit gefunksioneer nie omdat geen water vanaf die woongebiede die suiweringswerke bereik nie.
Sedertdien was die pompstasie sporadies buite werking soos tans weer vir minstens drie maande al die geval is en loop die rouriool steeds direk in Sandspruit in.
Van die kontrakteurs met wie die Vrystaat Sake Bulletin gepraat het, sê die probleem is waarskynlik bloot laksheid.
Hierdie situasie val saam met 'n ernstige waarskuwing wat onlangs deur die Waternavorsingskommissie van SA op 'n konferensie van die Waterinstituut van SA te Oos-London uitgereik is. Daarvolgens het altesaam 30% van Suid-Afrika se afvalwaterbehandelings-aanlegte onmiddellike ingryping nodig om te voorkom dat riviere besoedel word en siektes soos cholera versprei.
Volgens die studie van die Waternavorsingskommissie, kan nog 60% van 51 aanlegte wat ondersoek is, 'n ongesonde impak hê. Sommige van hierdie aanlegte raak nie op die regte manier van hul afval ontslae nie en daar is plekke waar nie-organiese afval, soos kondome, lappe en oorblyfsels van sanitêre doekies, bloot op 'n hoop gegooi word om deur die wind weggewaai te word. Slegs 4% van die aanlegte voldoen aan die voorgeskrewe regulasies, terwyl net die helfte van personeel oor die nodige vaardighede beskik.
Slegs 10% van die sowat 1 000 afvalwaterbehandelingsaanlegte in die land word goed genoeg in stand gehou sodat hulle oor 'n paar jaar nog gaan werk, aldus die kommissie.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2008 Web D-Zign Inc. All rights reserved.