

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 16-31 July 2005
• Tania Sandberg
Die ekonomie van Zastron en omliggende streek, wat groot dele van die suidoos-Vrystaat, westelike Lesotho en Oos-Kaap insluit, is 'n nekslag toegedien met die sluiting van die brug 30 km suid van Zastron op die teerpad na Sterkspruit en uiteindelik na Umtata en verder. Noordwaarts is dit op die hoofroete na Bloemfontein.
Die Dept. van Openbare Werke, Paaie en Vervoer het sonder kennisgewing begin met noodsaaklike herstelwerk aan die brug, wat na raming vir vyf maande gesluit sal wees. Plaaslike inwoners sê aanvanklik is geen kennisgewingborde by Zastron en Sterkspruit opgesit toe die brug gesluit is nie. Gevolglik het talle mense, o.a. met busse, tevergeefs die pad gery tot by die brug, om dan te sien dit is gesluit vir verkeer. Nou is borde darem opgesit.
Mnr. Chris Crous, 'n sakeman van Zastron, sê: “Op 'n dag het ons gehoor die brug is vir vyf maande gesluit, geen kennisgewing nie! Baie Sterkspruit inwoners doen besigheid in Zastron, terwyl plaaslike inwoners in Sterkspruit werk. Die brug is tans totaal gesluit vir vervoer, hoewel later gereël is dat werksmense oor kon loop met sekere tye, en moet hul dan reël om aan die ander kant opgelaai te word. Zastron besighede wat afhanklik is van bestellings of aflewering moet nou noodgedwonge Aliwal-Noord om ry, wat 'n draai van 150 km is,” sê Crous. Hy sê niemand is teen herstelwerk aan die brug nie, maar daar kan redelik maklik in die tussentyd 'n tydelike brug geskep word.
Volgens Crous is Zastron sakelui bekommerd dat baie besigheid verlore sal gaan as mense eers gewoond is om in Aliwal-Noord besigheid te doen, en sal hul waarskynlik moeilik weer terugkeer. Verder is die betrokke pad ook deel van die Maluti Hooglandroete. “Mense ry van Ficksburg af en dan skielik as hulle hier kom is die pad gesluit. Watter indruk skep dit by toeriste?” vra Crous.
Me. Anne-Lene van Wyk van Zastron Bande sê die brugsluiting het 'n negatiewe uitwerking op hul kontantvloei. “Ons is redelik afhanklik van ons reisende kliënte wat nou 'n 150 km draai moet ry om by ons te kom. Hul kla reeds petrol is ontsaglik duur en ry soms nou sowat 400 km hiernatoe en terug, want hul bly nie in Sterkspruit self nie, maar in die berggebied.”
Vertel me. Annemarie Marais van Model Slaghuis. “Salaristyd kom onderwysers gewoonlik na Zastron vir hul maandelikse inkopies. Nou neem ons eerder self die goedere na Sterkspruit en ry maar ompad om dit af te lewer, eerder as om kliënte te verloor.”
Me. Monica Schoerano van Zastron Slaghuis beaam dit: “Ons trokke wat vleis oorneem ry Aliwal-Noord om - die roete is bergagtig, wat beteken trokke moet nou oorslaap met tye – alles ekstra onkoste.”
'n Woordvoerder van die Mohokare Plaaslike Munisipaliteit het aan die Vrystaat Sake Bulletin gesê: “Ek het nie enige formele kennisgewing oor die sluiting gesien nie, tensy dit direk aan die munisipale bestuurder gestuur is. Ek is nie seker of besighede enigsins in kennis gestel is nie, behalwe deur middel van radionuus.”
Die Vrystaat Sake Bulletin het per e-pos navraag gedoen by die mediabeampte van die LUR vir Openbare Werke, Paaie en Vervoer, in Bloemfontein, maar teen druktyd is geen reaksie ontvang nie.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2006 Web D-Zign Inc. All rights reserved.