.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 16-31 July 2005


Slagting en plundering in Qwa Qwa Nasionale Park


Die QwaQwa Nasionale Park (QQNP) wat aan die Golden Gate Hoogland Nasionale Park grens en sowat 13 000 ha beslaan, is volgens ooggetuieverslae tans die toneel van grootskaalse slagting onder wild en plundering van kapitale verbeteringe en toerismefasiliteite.
In die vorige bedeling het die QQNP onder die QwaQwa regering en die Vrystaatse Provinsiale Regering geressorteer en is behoorlike beheer uitgeoefen, maar in Maart 2004 is 'n ooreenkoms onderteken ingevolge waarvan die QQNP en die Golden Gate Hoogland Nasionale Park tot een park van 34 000 ha onder SANparke-bestuur saamgevoeg sou word. O.a. a.g.v. die wisseling in provinsiale LUR'e wat met die saak gemoeid is, is die oordrag egter steeds nie voltrek nie.
Dit bring mee dat huidiglik skynbaar niemand verantwoordelikheid vir die QQNP aanvaar nie, wat weer tot gevolg het dat stropers en plunderaars feitlik volle vryheid van aksie in die gebied het. Elande word gratis sonder permitte afgemaai, kosbare grasveld word vernietig en heinings, paaie en toerismegeriewe word geplunder.
Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWBV) het dringende vertoë tot die Vrystaatse LUR vir Toerisme, Omgewing- en Ekonomiese Sake, SANparke en die Minister van Toerismse en Omgewingsake gerig, maar terwyl skouers opgetrek en vingers gewys word, is nog geen konkrete reaksie ontvang nie.
Die voorsitter van die SAJWBV, prof. Gerhard Verdoorn, het aan die Vrystaat Sake Bulletin gesę dat die provinsiale department o.m. vroeë goedkeuring verleen het dat elande, voorheen 'n beskermde boksoort, sonder jaglisensie en gratis gejag kan word as 'n voorkomingsmatreël vir oesskade wat na bewering deur ontsnapte elande uit die QQNP aangerig word. So is bv. by een geleentheid 40 elande geskiet. Verdoorn sę 'n videospan het sopas volledige opnames gemaak van die stropery en plunderingskade in die QQNP en dit aan SAUK TV voorgelę.
Die hoof van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park het aan die Vrystaat Sake Bulletin gesę: “Ons en die nasionale department wag nog steeds op die provinsiale LUR. Geen verdere verwikkelinge is ons meegedeel nie.”
Die Vrystaat Sake Bulletin het die kantoor van die LUR vir Toerisme, Omgewing- en Ekonomiese Sake telefonies en per epos met 'n navraag probeer kontak, maar het met ter perse gaan nog geen reaksie ontvang nie.
Prof. Verdoorn van die SAJWBV het aan die Vrystaat Sake Bulletin gesę enige persoon wat bewus is van onwettige wild- en natuurjag of stropery, is welkom om hom te skakel by 082 446 8946 of epos nesher@tiscali.co.za.
Imiddels kan Pierre van Heerden geskakel word indien oor relevante material vir video-opnames beskik word – sel 082 8530 228.

Op die foto, die karkas van 'n elandfetus wat deur wildstropers in die QQNP agtergelaat is nadat die dragtige koei geskiet is en vir vleis verwyder is. Die foto kom uit 'n video opname gemaak deur Pierre van Heerden van die stropery en plundering in die QQNP. Die videoproduksie gaan moontlik binnekort op die program 50/50 van SAUK TV2 vertoon word.

Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright Š 2006 Web D-Zign Inc. All rights reserved.