.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> May 2008


André van Niekerk


Sy pos word beskryf as die waghond oor die wyse van aanwending van staatsfondse in die Vrystaat. Hy moet as Provinsiale Ouditeur-generaal van die Vrystaat kyk dat die manier waarop, aan die een kant, fondse van die provinsiale regeringsdepartemente aangewend word en, aan die ander kant, fondse van die verskillende munisipaliteite in die provinsie aangewend word, korrek en volgens die voorskrifte geskied. Hy moet m.a.w. waak oor moontlike vermorsing van belastingbetalergeld in die provinsie en / of oor moontlike korrupsie en diefstal.

Dus 'n formidabele taak, wat 'n formidabele man aan die hoof van 'n bekwame span vereis. Dié man, mnr. Ben van Niekerk, is hierdie keer ons gas By die Koffietafel. Hy het ons die geleentheid gegun om in te loer in sy besige kantoor te Zastronstraat 110, Westdene, Bloemfontein.

Ons skop af deur hom te vra, hoe gesond oor die algemeen is die finansiële administrasie wat hy moet monitor? Ons ervaar probleme met die openbaring van en beheer oor staatsbates, hoewel ons vordering gemaak het oor die afgelope paar jaar. In die doen van staatsoudits moet ons toesien dat belastingbetalergeld doeltreffend en ekonomies aangewend word en tot volle potensiaal benut word.

Hoe gaan dit met finansiële beheer by spesifiek Vrystaatse munisipaliteite? Ons ervaar aansienlike probleme, bv. ons sukkel om stawende dokumentasie te ontvang as bewyse van syfers genoem in hul boekhoudingstelsels. Debiteureskuld by munisipaliteite is besig om te neem. Dit veroorsaak kontantvloeiprobleme, wat weer dienslewering nadelig beïnvloed.

Wat wil u hier sê oor enige korrupsie by provinsiale departemente en / of semi-staatsinstellings? Ons doen spesiale ondersoeke na bedrog en diefstal wat vermoed word, meesal op die versoek van staatsdepartemente en munisipaliteite.

By watter mate is die werk wat u en u personeel doen ook opleidend (“educational”) van aard? My kantoor neem leerling-ouditeure in diens met die doel om GRe (geokktrooieerde rekenmeesters) op te lei en te help kwalifiseer. So het ons tans 41 studente by die kantoor van die Provinsiale Ouditeur-generaal.

Hoe lank is u al Provinsiale OG van die Vrystaat? Al vir ses jaar.

Een komiese staaltjie uit u werk, kortliks? Tydens my ampstermyn in die Noord-Kaap met 'n ondersoek te Steinkopf moes ek die dag ons bevindinge openbaar maak in die dorp se stadsaal. Die dominee het geopen met 'n skriflesing wat sê dat die een wat sonder sonde is, die eerste klip kan gooi. Hy het afgesluit deur die boodskap van toepassing te maak deur te sê dat ipv om klippe te gebruik om te gooi, die gemeenskap eerder klippe moet gebruik om te bou. Dit het egter nie veel gehelp nie, want toe die dominee uit is, het die mense op die vergadering mekaar lelik in die hare gevlieg!

Loopbaan voorheen, in 'n neutedop? Na my studentejare by die Universiteit van die Vrystaat het ek in 1969 by die destydse Bankovs begin werk, waarna ek na die interne ouditafdeling van Sasol te Sasolburg is. Daarna het ek by die plaaslike owerheid van Sebokeng gewerk en toe by USKO (Unie Staalkorporasie) as 'n interne ouditeur vir ses jaar. Daarna was ek in die Kaap vir drie jaar in die kantoor van die Ouditeur-generaal voordat ek Kimberley toe is as Provinsiale Ouditeur-generaal van die Noord-Kaap vir ses jaar. Dis hoe ek in Bloemfontein beland het.

Gesin? My vrou is Rosemary en werk by St. Michaels in die finansiële afdeling. My oudste seun, Pieter (22) het 'n STR (Sertifikaat in Teorie van Rekeningkunde) behaal en doen tans sy leerlingskap by PricewaterhouseCoopers. My dogter, Rosmé (18), is 'n matriekleerling aan Hoërskool Sentraal.

Wat doen die Vrystaatse Provinsiale OG in sy vrye tyd? Ek is 'n deeltydse beesboer in die Steynsrus-distrik. Ek geniet dit terdeë, veral die stap vir oefening.

Waar lê sy wortels? Ek het te Steynsrus grootgeword en het daar gematrikuleer.

Studiejare? B.Comm by die Universiteit van die Vrystaat behaal en daarna deeltyds Honneurs en M.Comm aan die Potchefstroomse Universiteit.

Gunstelinggereg? Braaivleis en biltong.

Musieksmaak? As ek op die pad is, luister ek gewoonlik OFM, want ek verkies die tipe musiek wat hulle speel. Ek hou ook van musiek uit die sestigerjare, soos Elvis.

Lewensfilosofie? As daar 'n klip in jou pad kom, moenie oor dit val nie. Klim eerder oor en oorwin struikelblokke.

Slotopmerking? Die pos van Ouditeur-generaal het 'n grondwetlike mandaat om, as Opperste Ouditinstelling (OOI) van Suid-Afrika, ons land se demokrasie te versterk deur opsig, aanspreeklikheid en goeie bestuur in die openbare sektor te bevorder ten einde sodoende openbare vertroue te bou. Hiertoe probeer ek 'n beskeie bydrae lewer.



Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.