

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> April 2008
Marieke Botha kan vereenselwig word met Beautiful Buildings se kantore in Kellnerstraat. Sodra 'n mens deur die deure van Beautiful Buildings instap en Marieke agter haar lessenaar vind, voel jy die hartlikheid en warmte van haar en die besigheid. Hul kantoor is 'n pragtige ou gebou, wat soos sy dit beskryf, “voel soos my tweede huis”, kompleet met houtvloere, 'n kaggel en afdrukke van hul projekte teen die mure. Seker vandaar haar talent om “Beautiful Buildings” te skep.
Marieke is gebore in Fort Beaufort in die Oos-Kaap, maar het grootgeword in Bloemfontein waar sy skoolgegaan het aan Hoërskool Sentraal. Sy het haar B.Arch graad in Argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat behaal, waarna sy kortliks in diens was van Driskel & Medewerkers, voordat sy 'n werksaanbod aanvaar het by mnr. Chris van der Westhuizen. Ná slegs vyf maande het sy 'n venootskapsaanbod aanvaar en het die kantoor as Van der Westhuizen Botha Argitekte bekend gestaan. In 2006 het haar vennoot afgetree en is die besigheid se naam verander na Beautiful Buildings Professional Architects.
Van waar die liefde vir argitektuur? Vanaf my laerskooldae het ek altyd my kamer eers op papier verskuif voordat ek dit fisies verskuif het. Ek dink dit is ingebore in 'n mens se persoonlikheid. Ek het selfs op hoërskool na huise gekyk en by myself gedink hoedat ek aan die gebou veranderinge sou aanbring!
Van waar die naam Beautiful Buildings? My firma se naam kom direk van my visie.
Voorbeelde van geboue wat jy ontwerp het? College Lodge, die ingangsgebou van Woodland Hill Wildlife Estate, Solo Gracia Gastehuis, The Terrace by Oliewenhuis, en ander.
Wat is die doelwitte van jou argitekspraktyk? My visie is om pragtige geboue te skep en dat elke skepping uit my kantoor die stempel “Beautiful Buildings” met trots sal kan dra. Ek glo aan unieke ontwerpe vir elke situasie.
Wat hou die toekoms vir Beautiful Buildings in? Ek is tevrede met die skaal en tipe projekte waarop ons op die oomblik werk, dit pas goed by die karakter van die praktyk. Nuwe tipe geboue is egter altyd vir my 'n groot uitdaging - om navorsing te doen en my kennis so te verbreed.
Wat inspireer jou? Die Here Jesus is my groot liefde en inspirasie vir alles in die lewe.
Gesin? Ek is getroud met Eddie Botha en ons het drie pragtige dogters, Marieke (12), Lezanne (9) en Anneli (7). Ek kom self uit 'n huis van ses kinders.
Wat doen jy in jou vrye tyd? Ek is baie lief om te sing en ek skryf my eie liedjies. Ek het in Mei 2007 'n 13-snit gospelalbum vrygestel genaamd “Aan U voete”. Ek bedryf hierdie bediening deur in verskeie gemeentes op te tree.
Gunstelinggereg? My man se lasagne.
Gunstelingmusiek? Ek luister graag na die gospel sangeres, Reana (Nianel se suster).
Wat maak jou gelukkig? My geluk en vreugde is in die Here gewortel.
Wat maak jou kwaad? Mense wat nie die waarheid praat nie.
Jou lewensfilosofie in 'n neutedop? Soek eers die Koninkryk in alles en dan sal alles in jou lewe in plek val.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.