

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 15 September 2007
Hy is as geoktrooieerde rekenmeester 35 jaar in besigheid in Bloemfontein – dit is ons gas hierdie keer by die Koffietafel - Derek Foster, vennoot van PricewaterhouseCoopers, Bloemfontein en Sentrale Streek.
Terwyl hy tydens ons gesprek rustig rooibostee drink, begin ons deur hom te vra na sy wortels. “Begin skoolgaan by die destydse Westminster plaasskool in die distrik Ladybrand en later matrikuleer aan Excelsior Hoërskool. My pa was Engelssprekend en hy het my ma, 'n Boerenooi, op Harrismith ontmoet.Die taalgrens was nooit vir hulle 'n probleem nie, maar ek het Afrikaans grootgeword.
“Na voltooiing van my diensplig het ek in 1972 in Bloemfontein by die destydse Meyer, Nel & Kie Rekenmeestersfirma begin werk en deeltyds begin studeer aan die UOVS. Hierdie firma het deur die jare altesaam agt naamsveranderinge ondergaan tot waar dit vandag plaaslik PricewaterhouseCoopers is! Van die vorige name was Theron Du Toit, wat Coopers & Lybrand geword het en toe uiteindelik PricewaterhouseCoopers. Ek het my as GR bekwaam en in 1980 'n vennoot van die firma geword. So ek is van die begin af nog steeds by dieselfde firma”.
Hoe het die ouditeursberoep deur die jare verander? “Opvallend is dat familiebesighede gegroei het tot korporatiewes. Bloemfontein beskik tans bv. oor twee JSE-genoteerde maatskappye, Raubex en Country Bird, albei PWC-kliënte. Die ouditeursberoep staan vandag voor groot uitdagings, soos om sakelui en kliënte te help om die nuwe openbaarmakingsvereistes na te kom. Daar is ook verhoogde druk op ouditstandaarde vanweë die groot korporatiewe mislukkings wat in die VSA voorgekom het.
Dit maak my egter opgewonde om in die beroep te wees, veral as ek sien die klomp jongmense wat nuwe praktyke opsit en ook by bestaande firmas aansluit. Die onderrigmetodes het verbeter, terwyl die aantreklikheid en profiel van die ouditeursberoep verhoog is.
Die GR het 'n sakevennoot van sy kliënte geword, hoofsaaklik omdat die moderne sakepersoon gespesialiseerde diens soek. Die 'algemene praktisyn' kry vandag swaar.
Ek is baie gelukkig in Bloemfontein – om hier te woon en te werk is 'n leefwyse. 'n Mens het die voordele van 'n stad, maar die mens het nog nie verlore gegaan nie.”
Gesin? “Ek is getroud met Sally (Brink) en ons het twee kinders, Ernest, wat 'n makelaarskonsultant by Ou Mutual Bloemfontein is en 'n dogter, Estie, 'n fisioterapeut in die Kaap.”
Belangstellings buite die kantoor? “Ek pleeg boerdery,” lag hy en verduidelik dat hy 'n deeltydse boerdery het. “Verder is ek mal oor die buitelewe en hou van kamp en jag”.
“Ek was in vroeë jare betrokke by die Bloemfontein Junior Sakekamer en later by die Senior Sakekamer. Dié het na samesmelting deel geword van die Bloemfonteinse Kamer vir Handel- & Nywerheid. Ek is tans 'n erelid van laasgenoemde.”
Wat maak jou kwaad? “Swak diens, regtig. Dan onwilligheid om te help. Om net jou plig te doen, is nie genoeg nie, jy moet doen wat nodig is om iemand te help.”
Wat motiveer jou? “Gelukkige en gemotiveerde personeellede en gelukkige en tevrede kliënte. Mense maak vir my saak.”
Gunsteling kos? “Ek vrek oor roomys. Ek het 'n voorliefde vir visgeregte. Verder boerekos.”
Slotopmerking? “Jy is so oud soos jy voel. Ek werk tussen sowat 150 jongmense en dit vryf af op 'n mens. 'n Mens moet altyd nuwe uitdagings aanpak!”
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.